KAN LASER BEHANDELING OP ENIGE OUDERDOM GEDOEN WORD?
Laser behandeling is ’n baie veilige en akkurate metode om brilonafhanklikheid te verseker. Die metode waarop die prosedure gedoen word varieer vanaf ’n LASIK, waar ’n dun flappie gesny word, tot die nuwe “lemlose, geen aanraking” tegniek waar al die stappe akkuraat deur die laser voltooi word. Onafhanklik van die metode, bly die doel onveranderd: die vorm van die kornea word akkuraat deur die laser verander om skerp visie te verseker, aangesien die lig skerp kan fokus sonder die hulp van ’n bril of kontaklense. Die doel is om langtermyn brilonafhanklikheid te verseker, maar die effek is egter nie permanent nie.
Die kornea is nie die enigste struktuur wat verantwoordelik is om die lig skerp te fokus om goeie visie te verseker nie. Die lens in die oog is essensieël om skerp visie op verskillende afstande te verseker, deur die fokus van die oog te verander. In ons veertiger jare begin ons egter sukkel met naby visie aangesien die lens hard word, en nie meer so effektief die fokus van ver na naby kan verander nie. ’n Persoon wat vroeër ’n laser prosedure gehad het, kan steeds goed ver sien sonder ’n bril, maar sal al hoe meer afhanklik word van ’n bril vir lees. Dit maak dus sin dat indien die lens verantwoordelik is vir die swak visie, moet die lens aangespreek word. Gevolglik sal daar ’n kompromie wees indien ’n laser behandeling na die ouderdom van 45 jaar gedoen word.
INDIEN EK TE OUD IS VIR LASERBEHANDELING, HOE KAN MY BRILAFHANKLIKHEID BEHAN-DEL WORD?
Indien die lens van die oog versaak het, ’n proses wat begin in ons veertiger jare, bestaan ’n brilafhanklikheid vir beide ver, maar veral vir naby. Die proses vind geleidelik plaas, en die klagte van pasiënte is dat hulle arms net te kort word om naby te kan sien. Aanvanklik kan hulle nog goed ver sien op die TV, maar na ’n paar jaar begin hulle ver visie ook swakker word.
Indien ’n persoon net brille nodig het om te lees, maar nog goed ver kan sien, het hulle lens nog ’n funksie. Dit is dus waarskynlik nie die optimale tyd om ’n lensvervanging te oorweeg nie. Mettertyd sal die probleem egter vererger na gelang die lens harder word. Die gevolg is brilafhanklikheid vir beide naby én ver, aangesien die lens versaak het. Dit is dan die ideale tyd om die versaakte lens te vervang met ’n multifokale lens wat brilonafhanklikheid bied vir alle afstande. Dit is belangrik om te meld dat die lens vervanging prosedure ’n permanente oplossing bied. Die multifokale lens groei vas in sy finale posisie binne ’n paar weke en bly permanent daar. Die multifokale lens hoef nooit weer uitgehaal of vervang te word nie, en ’n persoon se visie bly ook stabiel in die toekoms, aangesien die lens wat verantwoordelik was vir die brilfout veranderinge permanent vervang is met ’n plastiese multifokale lens.
Dit is baie belangrik om te bevestig dat nie alle persone goeie kandidate is vir multifokale lense nie, meesal a.g.v. ander oog probleme wat die sukses van die prosedure beïnvloed. Soos genoem is die tydsbeplanning ook natuurlik belangrik. Die multifokale lens het nie dieselfde funksie as ’n jong persoon se natuurlike lens wat gemaklik op alle aftsande kan fokus nie. Die trifokale lens verskaf brilonafhanklikheid deur skerp visie te verseker vir ver, intermediër, asook naby vir lees.