Ouderdom het ’n betekenisvolle invloed op ons oë en gevolglik ook ons visie.
Die twee mees algemene toestande wat die visie van ’n ouer persoon aantas is katarakte en makulêre degenerasie. Die onderskeid is egter baie belangrik. Katarakte kan op enige tyd suksesvol omgekeer word met ’n klein prosedure. Makulêre degenerasie lei egter tot permanente onomkeerbare visie afname indien dit nie dringend behandel word nie.
’n Katarak bestaan uit die natuurlike lens wat met ouderdom verander. Die natuurlike lens is geleë agter die kleur van die oog en is deursigtig om skerp visie toe te laat. Met ouderdom word die lens egter digter en dof. Die gevolg is dat ’n mens se visie geleidelik valer word en mense met katarakte kla gewoonlik dat dit voel of hulle die heeltyd hulle bril moet skoonmaak. ’n Algemene klagte is ook dat hulle snags veblind word deur aankomende ligte wanneer hulle bestuur, en hulle visie is oor die algemeen swak in swak lig. Dit is belangrik om te verstaan dat katarkte lei to ’n algemene vaal visie. Katarakte kan baie suksesvol behandel word met ’n prosedure waar die katarak vervang word met ’n kunsmatige lens om ’n persoon se visie te herstel. Die prosedure is baie suksesvol en kan op enige stadium in die ontwikkeling van ’n katarak uitgevoer word.
In teenstelling hiermee veroorsaak makulêre degenerasie ’n verswakking in ’n persoon se sentrale visie. Die perifere visie langs die kante bly behoue, maar die fyn sentrale visie word aangetas. Die gevolg is dat lees en fyn kyk baie vroeg aangetas word en dit het ’n groot invloed op ’n persoon se daaglikse lewe. Persone met makulêre degenerasie kla van ’n sentrale vaal kol in hulle visie asook reguit lyne wat golwend vookom of buig. Die oorsaak is ’n ouderdoms verwante aantasting van die sentrale fynkyk agter op die retina of sienvlies van die oog. Makulêre degenerasie lei tot ’n onomkeerbare aantasting van ’n persoon se sentrale visie, en dit moet dringend ondersoek en behandel word. Hoe ouer ons word, hoe groter is die risiko dat makulêre degenerasie ons oë kan aantas. Dit is egter belangrik om so vroeg as moontlik met behandeling te begin indien aangedui. Die rede hiervoor is dat die behandeling doeltreffend is om enige verdere agteruitgang te voorkom, maar dit is dikwels nie moontlik om die visie te herstel wat reeds verloor is nie. Sonder behandeling word die sentrale dowwe kol al hoe groter en die visie al hoe swakker. Die behandeling van makulêre degenerasie is ook langdurig aangesien dit ’n chroniese toestand is. Makulêre degenerasie presenteer op baie verskillende maniere, en omgelukkig kan nie alle pasiënte suksesvol behandel word nie.
Dit is altyd raadsaam om ‘n oogspesialis te raadpleeg indien mens ‘n afname in visie ervaar, en veral so vir die ouer person.