Só kan jy ontslae raak van jou leesbril

SÓ KAN JY ONTSLAE RAAK VAN JOU LEESBRIL

Met die jongste tegnologie beskikbaar, is dit nou ook moontlik om multifokale lense in jou oog te plaas om sodoende volkome brilonafhanklikheid te verseker en ouderdomsverwante sigprobleme uit te skakel.

Jou oog se natuurlike lens het die vermoë om van vorm te verander om skerp visie op verskillende afstande te verseker. Kinders en jong volwassenes kan gemaklik klein skrif lees sonder om ’n bril te gebruik.

Soos jy ouer word, kan jou natuurlike ooglens geleidelik begin verhard, en vir baie mense in hul 40’s voel dit dikwels asof hul arms te kort geword het om gemaklik te kan lees. Jy ondervind dat jy ’n leesbril nodig het om klein skrif te kan lees, en die situasie kan hiervandaan selfs verder vererger.

Mettertyd word dit ook vir jou nodig om ’n bril te gebruik vir alledaagse werk, byvoorbeeld op die rekenaar of om detail op jou selfoon te kan lees. Hierdie verouderingsproses word presbiopie genoem.

Gedurende hierdie verhardingsproses verkleur die lens en vorm ’n katarak op jou oog. ’n Katarak is die ouderdomsverwante verandering wat die natuurlike lens ondergaan deurdat dit geleidelik dowwer word.

Dit bring mee dat inkomende lig geblokkeer word en lei tot algemene klagtes soos swak visie in swak lig, probleme om saans te lees, moeilik motorbestuur snags en verblinding deur aankomende verkeer se ligte. Dit raak ook al hoe moeiliker om die klein skrif op die televisieskerm te kan lees.

Katarakte kan verwyder word deur ’n klein prosedure waartydens ’n plastieklens in jou oog geplaas word om jou heldervisie te herstel.

’n Klein opening van 2 mm word met ’n dun naald in die voorkant van jou ooglens gemaak en die dowwe inhoud word uitgespoel. Dit laat ’n leë sakkie agter waarin die opgerolde nuwe lens X ongeveer 6 mm in deursnee X deur dieselfde klein opening in die oog gespuit word. Die lens vou oop binne-in jou oog.

Die plastieklens is veilig, bly permanent in jou oog en hoef nooit weer verwyder of vervang te word nie. Die prosedure is ook veilig en pynloos, en neem ongeveer tien minute. Slegs lokale verdowing van die oog word toegedien, dus kan jy eet voor die prosedure.

In die meeste gevalle word ’n monofokale lens ingeplant. Hierdie soort lens laat egter net goeie afstandvisie toe, dus is dit nog steeds nodig dat jy ’n bril gebruik om te kan lees.

Die nuwe multifokale lens wat nou moontlik is, hou meer voordele in deurdat dit skerp visie verseker op drie afstande: afstandvisie vir aktiwiteite soos bestuur en televisie kyk, intermediêre en naby-visie vir gemaklike lees en vir aktiwiteite soos rekenaarwerk asook om jou gesig duidelik in die spieël te kan sien.

Dié lens werk nie op dieselfde manier as ’n multifokale bril nie. ’n Multifokale brillens verander in sterkte van bo na onder om sodoende goeie visie op verskillende afstande toe te laat.

Vir meer inligting of om ’n afspraak te maak, bel gerus die spreekkamers van oftalmoloog dr. Frikkie Hartog by 021 946 1257 of stuur e-pos na assist@hartog.co.za.

Dr. Frikkie Hartog doen die inplanting van multifokale lense onder lokale verdowing.